Published 17 January 2023 in Artist Blogs
With the passing of Andre on January 4th, 2023, Pieter Fourie wrote a tribute to Andre:
Ek is besig om Ian McEwan se Promises te lees toe ek die nuus van Renée Rautenbach Conradie kry dat André dood is. In die boek beskryf McEwan in detail 'n ouerwordende man se ervarings, belewings, gevoelens en denke oor die lewe, die dood, vriende en verhoudings. Ek wonder hoe sou McEwan die gevoel wat ek ervaar ná die nuus van André se dood, beskryf het? Wat is die gevoel? Dit is een van “verwesenheid”, “verwese”, “verslae”, “verslaentheid”. Wat is “verwese”? Wat is “verslae”?
Na aanleiding van Herman Lategan se Sondagrubriek wat hy gewoonlik met 'n woorduitleg begin, gaan soek ek in ‘n woordeboek die volgende woorde:
"verwese" beteken verslae, onthuts, bedremmeld
"verslae” beteken terneergedruk, neerslagtigheid, onthuts, teleurgestel en verbaas
“verslaen(t)heid” beteken 1 Toestand/omstandigheid van verleë wees. 2 Neerslagtigheid, terneergedruktheid. 3 Teleurstellende verbasing, toestand van uit die veld geslaan wees.
Dit alles sê nog nie wat ek werklik voel en ervaar nie.
Die probleem met woordeboeke is dat dit nie die psigiese en fisiese kwaliteite van 'n gevoel beskryf nie. McEwan kan dit doen. Die naaste wat ek daaraan kan kom is om na aanleiding van Auden te wil skryf "stop all the clocks...", ensovoorts, en om dan my blindings te wil toemaak, die honde en voëls te wil stilmaak, die radio af te sit, André se skilderye teen my mure te wil omdraai, en op my stoel te gaan sit en huil oor 'n verlore vriend. "Verwese" word vervang met "verlies" en die gevoel van verlies. Dié verlies kan ek konkreet beskryf.
Wie het ek en ons almal verloor? Vir André Naudé: Ons veelkleurige en veelkantige vriend wie in weerwil van depressie en dikwels moeilike omstandighede, altyd blymoedig, positief en opbeurend was.
Vir my en Peanuts was dit 'n vriend van meer as veertig jaar wie ons in die sewentigs in sy huis in Greymont, Johannesburg ontmoet het. Dit was die begin van vele kuiers in sy kenmerkende gesellige en verbeeldingryke huise, pragtige interieurs, tuine en ateljees. Van Greymont trek hy na Greenside, dan na Groenkloof en toe na Muckleneuk. Selfs sy kamer in die Cité in Parys het hy verbeeldinkryk en gesellig bewoon.
Oor sy kuns kan die kunskenners praat. Hy het, soos ons weet, verskeie solo en groepuitstallings gehad. 'n Hoogtepunt was die retrospektiewe uitstalling in die Pretoriase Kunsmuseum. Sy werk het op 'n stadium in bykans elke tak van ABSA gehang. Daar was heelwat oor hom geskryf, geprys en gekritiseer. Wyle Prof Karin Skawran wou 'n monografie oor hom skryf, maar sy skuheid vir publisiteit het dit verhoed. Ek dink hy was oor sy kuns en kunstenaarskap te beskeie en te verwyderd van die idee van bemarking.
Ek het André as 'n impulsiewe mens en as ‘n doener geken. Iemand wat bykans op die ingewing van die moment besluite geneem en dan onverbiddelik gedoen het. Besluite wat sy lewe, bestaan en omstandighede ingrypend sou raak. Soos, byvoorbeeld, sy besluit om sy huis in Groenkloof te verkoop, om by UP as dosent te bedank, om verhoudings te begin en te beëindig.
Hierdie impulsiwiteit het ook in sy werk na vore gekom.Dit het gemaak dat sy werk nie maklik beskryf en vasgevat kan word nie, selfs al het hy in terme van inhoud en vorm 'n kenmerkende en herkenbare styl gehad. Was hy 'n abstrakte modernistiese impressionistiese ekspressionis? Of moet ons volstaan met 'n beskrwying van hom as 'n "colorist", 'n kleurmaker, soos wat hy na homself verwys het.
Hoe dit ook al sy, eksistensieel het André se werk en kunstenaarskap altyd getuig van sy soeke na en belewing van die artistieke en die estetiese; van sy “spirited and creative individuality”, soos Keith Diedrich na hom verwys op Facebook.
'n Mens het nie verwag dat André sommer net so sou doodgaan nie. André was nie 'n dood-tipe-mens nie. Miskien het hy ook impulsief besluit om dood te gaan - dat 'n hospitaallêery en 'n lyding nie vir hom is nie. Dis tyd om te gaan, en toe gaan hy.
Die voorafgaande is die begin van ‘n beskrywing van die Andrê Naudé wat ek verloor het, van my verlies.
Vyf dae ná André se dood: My aanvanklike “verwesenheid” en gevoel van “verlies” word 'n “gemis” en 'n “verlange” wat waarskynlik altyd by my sal wees. Elke keer as iets my daaraan herinner dat André nie meer 'n stukkie vleis, blomme en 'n bottel wyn by Groenkloof Spar kan gaan koop nie; André nie meer lekker aan 'n glas wyn kan drink nie; nie meer ‘n lekker bord kos kan eet nie; nie meer kan sien nie; nie meer kan lag nie; nie meer kan worry oor alleen oud word nie; nie meer kan skilder nie, en nie meer sy geliefde hond kan verlang nie.
Ons gaan almal na hom verlang en hom mis.
Salige nagedagtenis, André. Rus lekker en groete aan jou oorlede pa, Oom Boet.
Prof Pieter J Fourie
You can find a eulogy written for Andre by Eunice Basson here